Elsa Joubert, die bekroonde skrywer is oorlede

Elsa Joubert, die bekroonde skrywer is oorlede

Elsa Joubert, die bekroonde skrywer is Sondag in Kaapstad oorlede.

Prof. Nico Steytler, haar seun, sê sy ma is gister omstreeks 15h00 in die Mediclinic Kaapstad dood.

Steytler sê sy ma het Woensdag 3 Junie siek geword. Covid-19 is die Saterdag daarna by haar gediagnoseer.

Joubert is die volgende dag in die nabygeleë Mediclinic opgeneem. Sy was in ‘n saal waar slegs Covid-19 pasiënte behandel word. Steytler sê hy kon sy ma besoek die Vrydag voordat sy in die hospitaal opgeneem is en was ook op 8 Junie by haar in die hospitaal.

Hy sê sy ma se siekte en dood is ‘n groot skok.

“Al was sy baie oud, sy was so vol lewe.”

Die Swerfjare van Poppie Nongena het Joubert in 1978 geskryf. Die Roman wat in dertien tale vertaal is, het insae gegee oor die lewe en leefwêreld van stedelike swart mense. Die boek “ is ‘n belangrike stuk hedendaagse geskiedskrywing, opgeteken in ‘n pakkende en strak joernalistiek styl; objektief maar plek-plek so sensitief persoonlik dat dit die leser diep ontroer.”

Van haar ander boeke sluit in, Ons Wag op die Kaptein, Bonga, Missionaris, Die Reise van Isobelle, en haar laaste boek, Spertyd wat sy op die ouderdom van 95 gepubliseer het.

Sy was ‘n inwoner van die Berghof-aftreeoord in Tuine, Kaapstad. Sy het sedert 1998 daar gewoon nadat haar man, Klaas Steytler oorlede is.

In Mei, het Die Burger ‘n brief van Elsa Joubert gepubliseer waarin sy gevra het dat die streng inperkingsmaatreëls vir bejaardes, buigsamer moet wees sodat besoeke toegelaat kan word.

“ Menslik gesproke is ons in die laaste maande en weke van ons lewe. En ons wat in tehuise en inrigtings bly, hoe wonderlik ook al, is totaal van ons familielede afgesny.”

Boodskappe van medelye aan Joubert se familie het gisteraand op sosiale media ingestroom.

Etienne Bloemhof, hoof van fiksie by NB Uitgewers, het gisteraand gesê hy is geskok oor Joubert se dood.

Chris Olwagen, regisseur van die fliek Poppie Nongena sê, wat Joubert so merkwaardig gemaak het, is dat sy ‘n intellektuele reus was, “maar ook ‘n gewone vrou. Sy was hierdie groot gees in ‘n klein lyfie. Sy was ‘n ongelooflike mens.”

Die skrywer Marita van der Vyver het gisteraand op Facebook geskryf,

“Spertyd vir Elsa Joubert. Dit word ‘n nare, nare maand vir legendariese Afrikaanse vroue wat skryf. Sy was ons almal se voorloper. Ek voel verlore vanaand.”

Bron: Die Burger


React

Share

Comments


Trending News

About Tame Times

Tame Communications (known as tameTIMES) was established in 1997. This long-established popular community title includes the key shopping centres:  Alberton City, Mall...

Get in Touch