Clari, ons pragtige dogter, ons hart se punt.

Clari, ons pragtige dogter, ons hart se punt.

Geskryf deur haar ma, Lizette Lehmkuhl

 Clari word Maandag 30 jaar oud!  Ons kan nie glo waarheen die tyd gevlieg het nie.

Met haar geboorte was ons nie ‘n gerusstellende diagnose gegee nie. Die dokter het aanbeveel om vir Clari in ‘n tehuis te sit, om net van haar te vergeet, want sy sou volgens hom, vir ons net ‘n verleentheid wees.  

Ek het dadelik besluit dat dit nie die geval sal wees nie en dat ek haar die beste sal maak wat ek moontlik kan.

Van die dag wat sy gebore is het ek met haar  begin werk.  Toe  sy 8 maande oud was het ek ‘n program met haar gedoen wat opgestel was deur ” St Brails Centre for Human potential”, hulle het elke 6 maande na SA toe gekom ( Durban en Kaapstad) en vir ons wat die ouers was opleiding gegee om spraak terapie, fisio, arbeidsterapie en “patterning” te leer. 

Hulle het vir haar ook op ‘n spesiale dieet gesit waar sy geen suiker, geen preserveer middels, kon kry nie.  Ek het dit 100 persent gevolg.  Ons het mense se hulp gekry ( van kerk en vriende) wat elke uur, 5 ure per dag met haar kom werk het.  Ons moes altyd 3 mense gewees het om die program te doen.  Ek, my huishulp en ‘n vriendin of vrywilliger.

Ons het hierdie program gevolg vir 5 dae van die week vir 2 jaar.

Ek het Clari leer lees en skryf voor sy skool toe gegaan het, maar het  gesukkel om haar in ‘n skool te kry.

Ek het haar eers ingeskryf by ‘n skool in Alberton (sal nie die naam noem nie), maar hulle het my toe laat weet dat hulle daarteen besluit het en ek vir haar ‘n ander skool moet soek. 

 Ek het toe my seun se skoolhoof gaan sien en hy het na baie vrae ingestem om dit te probeer en te sien hoe dit gaan. 

 Clari was toe die eerste Down sindroom kind wat aanvaar was by ‘n normale skool in Suid Afrika en was voorblad nuus in Beeld gewees. 

 Clari was vir 2 jaar in ‘n gewone skool in Alberton en toe trek ons na ‘n ander land.

Oman

In Oman aangekom kon ons glad nie vir Clari in ‘n skool kry nie, daar was geen spesiale klasse of iemand wat bereid was om haar ‘n kans te gee nie.

Ek het toe begin met tuis onderrig. Drie maande voor ons Oman verlaat het, het ek uiteindelik toestemming gekry by ‘n Britse skool om haar daar in ‘n klas op te neem as ek ‘n onderwyseres betaal om saam met haar klas toe te gaan. 

Clari het die Franse klasse en die vriendinne baie geniet.  Ongelukkig het dit toe tot ‘n einde gekom toe ons terug trek na Suid Afrika na 4 jaar in Oman.

Ons het weer die skool probleem gehad en in Clari se beste belang op Frances Vorwerg skool besluit.

Sy het die skool baie geniet en was verkies tot ‘n prefek.

Verenigde Arabiese Emirate. 

Ons is nou al 14 jaar hier. Clari het nie verder gegaan met skool nie, ek het toe vir haar maar weer tuis klasse gegee en sy het baie geswem en tennis gespeel.

In die buurt waar ons gebly het, het die eienaar van ‘n sport sentrum haar ontmoet en gevra om vir hom as ontvangsdame  2 keer per week daar te kom werk.

 Hy was baie beindruk met haar en sy het gereeld oor tv, tydskrifte en in die koerant verskyn.  Hy het toe ook vir haar ‘n werk gekry by New York University se kantoor in Abu Dhabi.

Clari het daar gewerk vir 4 en half jaar vir die “Dean of Students” as ontvangsdame. Sy het ook afsprake gemaak vir haar baas en hy het haar geleer hoe om “Data Capturing” te doen.  Sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt om al die studente se data inligting na NUY in New York deur te gee. Clari was gestuur op ‘n EXCELL kursus deur die universiteit en sy het ‘n wonderlike salaris verdien.

Ons was almal baie dankbaar en baie trots dat sy al hierdie dinge gedoen en geleer het. 

 Die mense by die werk het almal van haar gehou en toe die Dekaan terug gegaan het New York toe, het sy gesê dat sy baie graag vir Clari sou wou saam neem.

Ongelukkig nadat sy daar vir 4 en half jaar gewerk het, het hulle personeel verminder en Clari was een van 10 mense wat hulle werk verloor het.

Gelukkig het iemand van haar dilemma gehoor en sy is by SEDRA aangestel as ‘n vrywilliger, 3 keer ‘n week.

 Zumba

Clari begin toe Zumba klasse saam met my. Die instrukteur het haar talent raakgesien en voorgestel sy word ook ‘n instrukteur.

Ons het haar ingeskryf en sy is nou ‘n gekwalifiseerde Zumba-Instrukteur.

Sy is nou al 3 jaar ‘n instrukteur, was al 2 keer Amerika toe vir die Zumba konferensie en sou dié jaar ook gegaan het maar as gevolg van  Covid-19 het sy dit aanlyn gedoen.

Clari het intussen baie klasse aangebied, in Abu Dhabi, Dubai en selfs ‘n paar klasse in Suid Afrika.

Sy het op die oomblik amper 7000 volgelinge op “Instagram” Clari.dance.

 Clari het in die 3 jaar wat sy ‘n instrukteur was, verskeie ander Zumba kwalifikasies gekry, sy is nou ook ‘n “Zumba kids, Zumba kids jr, Zumba Gold, Aqua Zumba” Instrukteur en het ook ander kwalifikasies gedoen soos “PRO skills, Rhythm 3 en Zumba Virtual PRO”

Spesiale Olimpiese Spele

Clari was deur Verenigde Arabiese Emirate gevra om hulle in tennis te verteenwoordig by die Spesiale Olimpiese Spele wat verlede jaar in Dubai en Abu Dhabi gehou was.

Sy was die enigste dame in die tennis-span en het ‘n silwer en brons medalje gewen met die enkels en gemengde dubbels.

Clari geniet die kollig baie en straal as iemand haar op straat herken of selfs in Amerika haar stop en vra om ‘n foto saam met hulle te neem.

Inclusion Matters

Sy wil graag eendag die wêreld toer en Zumba klasse gee, sodat almal kan sien “inclusion matters”

Ek is ongelooflik trots op haar en wat sy in die lewe bereik het. Ek is dankbaar ek het my eie kop gevolg en in Clari en haar vermoëns bly glo.  Ek wonder wat dié dokter vandag sou sê oor haar ongelooflike wil, deursettingsvermoë en gelukkige lewe.

Sy is ‘n inspirasie vir soveel mense en ek is so trots op hierdie pragtige kind van my.


React

Share

Comments


Trending News

More News

About Tame Times

Tame Communications (known as tameTIMES) was established in 1997. This long-established popular community title includes the key shopping centres:  Alberton City, Mall...

Get in Touch