Alberton groet vir Gert van der Merwe.

Alberton groet vir Gert van der Merwe.

Alberton groet vir Gert van der Merwe: legende in rugbykringe.

Die eindfluitjie van die lewenspel het vir die legendariese Gert van der Merwe (66) finaal geblaas op Sondag 2 Augustus. Hy was ‘n bekende in rugbykringe  en het diep spore getrap in rugbykringe , maar ook in die harte van almal met wie hy paaie gekruis het.

Gert en sy vrou, Marian was 45 jaar getroud en sport was die gesin se lewe.

Drie seuns is uit die huwelik gebore: Riaan, Eugene en Gert (junior). Laasgenoemde was ‘n Suid–Afrikaanse paralimpiese atleet en het Suid–Afrika twee keer verteenwoordig en goue medaljes ingepalm. Gert (junior) is op 26 jarige ouderdom in 2002 onverwags tydens ‘n mediese prosedure oorlede.

Elize Myburgh , onderwyseres van Frances Vorwergskool skryf:

“As ouers was Gert en Marian baie betrokke by Frances Vorwergskool waar hy gelyktydig op die SBL en OOV gedien het.  Geen werk of moeite was ooit ontsien om die wêreld ‘n beter plek te maak vir  gestremde leerders nie.  Te danke aan sy bemoediging en afrigting het ons leerders uitgestyg in sport. Na die tragiese afsterwe van Gert junior, het hulle jaarliks nog steeds die skool se Prestige aande bygewoon.  Hierdie legende sal altyd voortleef in ons gedagtes en ons harte.”

Gert (snr) was ‘n toegewyde eggenoot, gesinsman, rugbyspeler en –afrigter en trotse inwoner van Alberton: ‘n man van statuur.

Sy laerskoolloopbaan het hy aan Generaal Alberts voltooi en sy hoërskooljare by Marais Viljoen.

Na skool het hy rugby gespeel( hy was ‘n kranige slot) vir die Albertonse klub en het selfs in  ‘n paar provinsiale  wedstryde uitgedraf vir die Goue Leeus in die tagtigerjare. In sy loopbaan het hy het verkeie leiersposisies in die rugbywêreld beklee: Gert was voorsitter van die Albertonse Rugbyklub en hy was ook deel van Goue Leeus Rugby Unie se Chairman’s Council.

Nadat hy sy stewels opgehang het was Gert vir etlike jare afrigter by die Albertonse rugbyklub asook by die eertydse Wits Technikon. Oral waar hy betrokke was, was hy ‘n mentor vir seuns en jong mans – ‘n vaderfiguur.

Sy onverwagse dood, as gevolg van COVID 19, was ‘n reuse skok vir die gemeenskap. Die plettervat van hierdie vernietigende virus kon hy nie voorsien of stuit nie.

Verskeie mense het bemoedigende boodskappe aan die familie gestuur waarin hy o.a. beskryf word as ‘n “gentle giant”, ‘n vader vir baie mans, rolmodel; uitsonderlike gerespekteerde mens.  Van die mans het bevestig dat hulle talle rugby- en lewenslesse by Gert geleer het; hy was baie spesiaal en vir sommige ” ‘n tweede pa”.

Hy is ook bestempel as ‘n “legend”, “yster”  en dat die “rugbyvelde nooit weer dieselfde sal wees sonder  oom Gert langs die baan nie”.

Gert word oorleef deur sy vrou, Marian, hulle twee seuns en skoondogters, Karen en Candice en vier kleinkinders : sy groot vreugde . Wat sou hy nie gegee het om vir hulle die kunsies van die sport te kon leer nie.

TameTimes betuig hiermee namens die gemeenskap van Alberton hulle innige meegvoel met die familie tydens die afsterwe van hierdie kleurvolle sportman. Sy afskeidsdiens was volgens die COVID – regulasies op 17 Augustus in die Albertonse Lewensentrum gehou.

Mooi loop, Gert! Rustyd het nou vir jou aangebreek…


React

Share

Comments


Trending News

More News

About Tame Times

Tame Communications (known as tameTIMES) was established in 1997. This long-established popular community title includes the key shopping centres:  Alberton City, Mall...

Get in Touch