tame Times Fresh Approach to local news
Glendower
Glendower
108-Jaar-Oud Alberton Matriarg Sterf

108-Jaar-Oud Alberton Matriarg Sterf

Mevrou Corrie Wijnbeek, ‘n oud-inwoner van Alberton, is Dinsdagoggend oorlede op die ouderdom van 108.  Corrie het by haar seun in Swartruggens gebly maar was voorheen vir etlike jare ‘n inwonder en bekende in Alberton.  Haar dogter, Dr Trix Van Der Walt, bly nogsteeds in Brackenhurst en is welbekend in die dorp.

Corrie was in Den Haag, Nederland gebore op 18 Februarie 1913. Sy het haar gesin daar begin grootmaak met die 2de wêreldoorlog wat om hulle gewoed het.  Corrie het vyf kinders gehad. Haar man was self ‘n krygsgevangene in Duitsland vir ‘n wyle, en een van haar seuns is in die tyd oorlede. Deur dit als was Corrie ‘n absolute ystervrou.

“Nietemin het my ma in ‘n tyd van geweldige voedseltekorte en swaarkry op haar fiets geklim en platteland toe gery om kos in haar rugsak terug te bring,” vertel Ds Dirk Wijnbeek, haar jongste kind.

Aan die einde van die 1940’s het die Wijnbeeks verhuis na Suid-Afrika om ‘n nuwe tuiste te skep.  Dit is hier waar Corrie se man in 1981 oorlede is.  In 1996 is haar dogter wreed vermoor en sy self het ‘n aanval in haar woonstel in Alberton oorleef. Sy het toe by Dirk en die se vrou ingetrek. In 2013 het die drie weer van Steynsburg af verhuis na Swartruggens in die Noordwes. Dit is hier waar Corrie die res van haar lewe spandeer het.

Sy het gereeld by haar dogter Trix in Alberton gekuier.  Sy was reeds verby die 100-jaar-merk toe sy ook as eregas by die Alberton Damesklub saam met Trix gekuier het. Corrie het soveel moontlik tyd spandeer om haar kleinkinders en agterkleinkinders te koester en bederf.

“My ma het elke asem wat sy gehad het benut. Tot voor die huidige afsonderingsregulasies in werking getree het, het sy elke Sondag kerk toe gegaan.  Al was dit soms moeilik, het sy daarop aangedring om kerk toe te gaan,” het Dirk gesê.

“Sy het net geweier om op te gee en het elke dag, al was haar oë sleg en haar hande krom, naaldwerk gedoen.  As sy nie vandag reggekom het nie, het sy môre die breinaalde opgetel en weer probeer.  Sy was ‘n bron van inspirasie.  So baie mense wat nog sterk en gesond is, gooi maklik tou op, veral wanneer dit moeilik gaan, maar nie sy nie.  Sy het vasgebyt.”

‘n Roudiens vir Corrie sal einde volgende week in Alberton gehou word. tameTIMES dink aan Dr Trix en haar gesin in hierdie moeilike tyd.


React

Share

Comments


Trending News

More News

About Tame Times

Tame Communications (known as tameTIMES) was established in 1997. This long-established popular community title includes the key shopping centres:  Alberton City, Mall...

Get in Touch