Alberton News Entertainment

Tannie Trixie se Tips

Beurtkrag.

Elke keer as ek net begin vergeet dit bestaan dan begin dit weer van voor af. Gewoonlik pla dit ons nie te veel nie, maar nou en dan is dit net regtig ongerieflik.

Gysie en ek gaan so rukkie terug weg vir ‘n langnaweek. Sommer bosveld toe, in ‘n pragtige gastehuis. Die probleem met die bosveld
is, dit is nog wild, en nou en dan kom die wild in die huis in. Ons sit een aand net na ete op die rusbank en gesels toe iets skielik oor Gysie se voet gly. Hy gee nog so benoude gilletjie toe spring ek al op die bank. Dit was toe nou ‘n slang. Ja, ‘n slang. So lelike bruinerige ding. Gysie sê toe dit is darem nie ‘n giftige slang nie en ons moet dit vang en buitentoe vat. Hy beweeg nogal ewe braaf nader aan die slang toe alles skielik skeefloop. Die slang maak so kap beweging na Gysie se been, in my poging om weg te kom val ek oor die mat plat op my maag, en skielik is dit pikdonker. Ek word yskoud daar waar ek lê. Gysie sê saggies:”

Dalk is dit ‘n giftige slang, ek is nie seker nie”. Hy trap agtertoe en die slang blaas en hy val bo oor my bene op sy rug. Daar lê ons doodstil. Maak nie eers ‘n beweging nie. Vir 3 ure my vriende, vir 3 ure lê ons so. Toe is die ligte skielik weer aan, en die slang is weg.

 

Versigtig begin ons opstaan en Gysie bel die bestuurder. Hulle stuur toe onmiddelik ‘n slangvanger. Dit was toe ‘n gewone bruin huisslang wat homself rustig onder die yskas opgekrul het. Heeltemal skadeloos.

 

Tip – Nie alle slange is giftig nie, en partykeer is die grootste vrees die onsigbare.

About the author

Sheldon Smith

Add Comment

Click here to post a comment